Rooi Kruis

Verspreiding van onderafdelings van die Rooi Kruis: ██ Lande met die Rooi Kruis ██ Lande met die Rooi Halfmaan ██ Lande met die Rooi Kristal - Israel, Magen David Adom, saam met die Rooi Davidster ██ Lande met die Rooi Leeu met Son - vroeër in die Iran

Die Rooi Kruis is 'n wêreldwye hulpverleningsorganisasie waarvan die werking op sewe basisbeginsels gegrond is: mensliewendheid, neutraliteit, onpartydigheid, onafhanklikheid, vrywilligheid, eenheid en algemeenheid (ook universaliteit genoem). Hierdie beginsels vorm die grondslag vir alles wat die Rooi Kruis doen en word weerspieël in alle aksies van die vrywilligers van die Rooi Kruis.

Die Rooi Kruis is met ongeveer 97 miljoen vrywilligers in 186 lande die grootste humanitêre organisasie ter wêreld. Die gedagte aan 'n beweging soos die Rooi Kruis het op 24 Junie 1859 tydens die rumoer van die Slag van Solferino ontstaan. In hierdie slag het 400 000 soldate teenoor mekaar gestaan - Italianers, Sardiniërs en Franse aan die een kant, en Oostenrykers aan die ander kant.

Destyds was die Geneefse sakeman Henri Dunant op reis deur Italië, en hy het 'n verbysterde getuie geword van die lyding van die gewondes aan weerskante. Dunant het spontaan ingegryp. Hy het die lydendes vertroos, die gewondes verbind en ʼn laaste sluk water aan die sterwendes gegee. Bowenal het hy helpers uit die dorp Solferino gehaal, en aan hulle opdrag gegee om die gewonde vyand net soos hul eie gewondes te behandel. Die ongekunstelde Lombardiese vroue het hierdie boodskap van menslikheid begryp en geantwoord: “Siamo tutti fratelli" (Ons is almal broers).

Nadat hy in Genève teruggekeer het, het Dunant Un souvenir de Solférino ('n Herinnering aan Solferino) geskryf en dit aan alle Europese regerings gestuur. Hierdie boek het die beskaafde wêreld geskok en die mensdom tot nadenke aangespoor. Die meeste regerings het die betekenis van hierdie boodskap gesnap, en afgevaardigdes gestuur na 'n konferensie wat op 8 Augustus 1863 in Genève, Switserland, plaasgevind het.

Die konferensie is deur 26 afgevaardigdes uit 16 lande bygewoon. Reeds voor die sameroeping van die eerste Geneefse Konferensie het Dunant geesgenote gevind in vier Geneefse medeburgers: die regsgeleerde dr. Moynier, genl. Dufour en twee geneeshere, drr. Appia en Maunoir. Hulle het die “Komitee van Vyf" gestig, ʼn “komitee vir hulp aan gewondes" – die voorloper van die Internasionale Rooi Kruiskomitee.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search